Wegkruipplek in die berge | Mont Aux Sources

CALL CENTRAL RESERVATIONS HOTLINE - 086 199 1199 CAREERS A MEMBER OF THE
ORION HOTELS GROUP

RESERVATIONS - +27 (0)86 148 8867 Customer Services »

Wegkruipplek in die berge

23 July 2011, Drakensberg, Kwazulu Natal - Reis, Beeld

Oorverdowende stilte in die Drakensberg het enige gedagtes van die irritasie van Vrydagverkeer uitgedoof wat RIËTTE GROBLER nog kon hê.

Dit was een van dáárdie Vrydae toe ons ’n paar weke gelede uit Johannesburg verkas vir ’n naweek by die Orion Mont-Aux Sources-oord aan die voetheuwels van die noordelike Drakensberg. Daar is mos altyd ’n ongeluk in Pretoria wat die verkeer tot duskant Alberton laat stilstaan as ’n mens die naweek iewers heen gaan en teen die tyd dat ons net ná 20:30 die Bergville-afdraai ’n paar kilometer ná Harrismith vat, is ons pootuit.

Volgens die GPS sou ons binne ’n half uur ons bestemming bereik. Wat die blikkopkaart nie weet nie, is dat die R74-Bergvillepad deur sloerende padwerk tot ’n enkelbaan vernou is wat eintlik net adrenalien verslaafdes beskore behoort te wees. Dis ’n riller van ’n pad; ’n rit wat ’n mens omwens. Ná byna ’n uur is ons darem heelhuids aan die ander kant uit. Intussen het die hotel se gawe ontvangsvrou ons al om die halfuur gebel om uit te vind of ons nog in een stuk is. Dit is die eerste aanduiding van juis hoe belangrik gaste vir die personeel by dié hotel is.
 

GROOT EET EN RUS

Die knetterende kaggelvuur wat ons teen 22:00 indiehotel se voorportaal verwelkom, help dadelik om die snelweg-senuwees te laat verdamp. In die Gigaba-restaurant wag Vincent Hlashwayo en Modecai Mazibuko geduldig op ons aankoms. Dié twee werk albei reeds 28 jaar by die hotel en goeie diens is hul trots.

Ons eerste ervaring van die buffettafel voorspel ’n naweek van groot eet. Vars produkte van goeie gehalte is aan die orde van die dag en nadat ons die verskeie soorte slaai, vleis, heerlike, vars brood, tientalle groentedisse en verleidelike poedings op die proef gestel het, gaan ons in ’n koswaas kamer toe. Die hotel is besig met grootskaalse opknappingswerk en ons gaan in een van die luukse nuwe kamers tuis. Dit is met sorg gemeubileer en ’n bord vars vrugte en vars gebakte koekies verwelkom jou. Daar is ’n groot platskerm televisie, ’n knus sitkamertjie en ’n tamaai dubbelbed wat ’n soete nagrus verseker. Die enigste kritiek is dat jy op ’n koue wintersoggend jou voete op ’n koue teëlvloer sit wanneer jy uit die bed klim. Dit maak nie meer saak wanneer jy die gordyne oopgooi en régtig kan waardeer waar jy jou bevind nie. Die hotel word deur die Royal Natal Nasionale Park omring en bied ’n dramatiese uitsig op die Drakensberg se Amfiteater.

DIE GELUID VAN STILTE

Die asemrowende berge lok ons en net nadat ons ’n tamaai ontbyt verborber – daar is enigiets van omelet tot plaatkoekies – het, kies ons koers. ’n Mens kan deur die hotel se tuin loop tot by ’n hekkie wat na die pragtige Rugged Glen-gedeelte van die nasionale park lei. Daar is ’n paar staproetes wat wissel van een tot drie uur. Sjef Thomas Pienaar kan ook vir jou ’n lekker piekniekete inpak. Moenie dieselfde fout as ons begaan nie en vra liefs vooraf by die hotelontvangs vir ’n kaart van die roete wat jy wil volg. Dan weet iemand minstens waar jy is. Ons het die Kameel se boggel-roete gekies wat veronderstel is om drie uur te duur, maar iewers langs die pad word die aanwysings minder. Ons het die pad byster geraak en moes, effens senuagtig, omdraai en op dieselfde pad terugloop.

Dit was vyf uur wat ons vir niks sal verruil nie, want nêrens kan ’n mens die stilte van afgesonderheid so deeglik ervaar soos in die ongereptheid van die Drakensberg nie. Die roete kronkel om ’n paar heuwels, deur drie woudjies met varswater strome waarvan jy kan drink en neem jou tot op ’n asemrowende plato waar jy naby aan die hemel én natuur voel advising.wisc.edu. So ’n oefensessie berei jou ook voor vir die vergrype van aandete en jy voel omtrent jy verdien ’n glasie port in ’n gemakstoel voor die Bingelelo-kroeg se kaggelvuur. Drentel sommer ook deur die hotel se tuin om te ontspan. Besoek veral die kampie met plaasdiere waar Varkie die boeppensvark uit jou hand eet as jy ’n lekkerny saamneem.

Ons is traag vir wegry van Mont-Aux Sources, maar ná ’n onweerstaanbare dunbasis pizza by The Tower of Pizza-restaurant (0036 438 6480) val ons in die pad. Die R74-Bergvillepad bied in die daglig ’n heel ander ervaring, want jy besef die kilometers lang die Sterkfonteindam lê nog al die tyd langs dié pad op jou en wag. Dis ’n lus vir die oog en jy waardeer opeens dat jy teen ’n slakkepas vorder. Dalk het dit iets daarmee te doen dat ons die naweek bederf is en binne net twee dae in die natuur kon uitrus.

Orion Mont-Aux-Sources is op uitnodiging besoek.

Nog doendinge

By die hotel kan jy tennis, muurbal, minigholf of ’n pot buitelugskaak speel. Daar is ook ’n speletjieskamer en ’n swembad.
Aktiwiteite in die omgewing sluit in:

Royal Natal Nasionale Park: Staproetes of ’n toer van Santekeninge: 0036 438 6310. Besoek ook www.kznwildlife.co.za.
All Out Adventures: 0036 438 6842

Spioenkop Lodgeslagveldtoere, 15 km buite Winterton: 0036 4881404
’n Toer van die Drakensberghidrokragstasie: 0036 438 6046

Kies jou kamer

Die Orion Mont Aux Sources hotel in KwaZulu Natal is sowat vier en ’n half uur se ry van Johannesburg.

Standaardkamer: R799 per persoon wat deel. Dit sluit bed en ontbyt in.
Deluxekamer: R999 per persoon wat deel. Dit sluit bed en ontbyt in.
Selfsorgeenheid: R1 980 per nag.

Besoek www.oriongroup.co.za/montoverview.html of skakel 0036 438 8000. Jy kan ook ’n epos stuur na confmas@orionhotels.co.za.